Article By Landbou.com
Dr Pieter Grimbeek en Dr Christo Fick het onlangs ’n lesersvraag beantwoord op Landbou.com nadat Dr Faffa hulle hulp ingeroep het. Die leser wou weet hoe ’n varkboer sy wins kan verhoog.
V: Ek het ou varkhokke op my plaas gerestoureer en wil hulle nou gebruik. Die wins lyk egter bitter min. Soos ek my somme maak, eet ’n vark 250 kg groeimeel. Dit is 6,25 sakke voer teen R275,68 tot op ’n gewig van 110 kg en 23 weke oud. Sowat 75% van die totale gewig kom dan op 82 kg wat uitgeslag word. Die slagplaas bied my R28,50/kg aan. Dus kos die groeimeel R1 723 en die varkie R350, en die totale uitgawes is R2 073: 82 kg x R28,50/kg = R2 337. R2 337 minus R2 073 = R264 wins.Is daar ’n manier hoe ek die wins kan verhoog?
A: Dit is welbekend dat die insetkoste vir meeste intensiewe veebedrywe tans baie hoog is. Om in vandag se mark nog die prys van R28,50/kg varkvleis te kan kry, is baie goed. In die varkbedryf is daar gewoonlik min ruimte om wins te maak. Met die huidige grondstofpryse en die varkprys maak dit gewoonlik nie sin nie. Dit is ook belangrik om te weet dat voerkoste omtrent 70% van die uitgawes op ’n varkplaas uitmaak. Onder meer arbeid, brandstof, medisyne, elektrisiteit en instandhouding moet ook in berekening gebring word. Dit behels die ander 30%. Deur jou eie rantsoen te meng, kan jy geld bespaar op voerkoste, mits jy grondstowwe van topgehalte teen goeie pryse kan aankoop. Na gelang van die aankoopprys kan ’n goeie groeirantsoen R5 500/ton tot R5 900/ton kos. Saam met arbeid en ander mengkoste kan die aangekoopte sakprys R6 500/ton tot R6 900/ton beloop. Moenie die fout maak om grondstowwe van ’n swak gehalte te koop nie. Hoewel dit goedkoper kan lyk op papier, sal jy baie inboet op jou varke se groei en voeromsettingsvermoë.
Getalle Tel
Uiteindelik gaan varkboerdery oor getalle. Jy moet so doeltreffend moontlik boer en mededingend wees teenoor ander boere. Dit beteken jy moet meer varke produseer met dieselfde hoeveelheid sôe en jy moet minder dae voer om dieselfde karkasgewig te bereik. Varke vreet kos gelykstaande aan sowat 3% van hul lewende gewig per dag en hulle gebruik sowat 43% van hul daaglikse voerinname vir instandhouding. Dit is baie belangrik om laasgenoemde te onthou. Elke dag dat hulle langer op die plaas bly, word 43% van die kos wat hulle ingeneem het, gebruik net om hulle in stand te hou. Moderne varkteelmateriaal benodig vaartbelynde, gebalanseerde rantsoene. Dit is nie net die proteïen- en energiewaardes van die rantsoen wat belangrik is vir optimale groei nie, maar ook makro- en mikro-elemente. Met goeie rantsoene en goeie teelmateriaal kan ’n uitslagpersentasie van 77% behaal word. Daar is ook groeistimulante wat in die rantsoene gebruik kan word. Kundiges kan jou inlig oor die voordele of nadele en koste van dié middels. Die omgewing waarin die vark groei, is net so belangrik. Droë vloere, watervoorsiening, goeie voerbakke en plafonne is bepalend.Moet ook nooit bestuur afskeep nie. ’n Goeie stockman is goud werd op’n varkplaas!