News

Ent jou kudde vir beskerming teen BVD

Schabort Froneman, Tegniese Bestuurder, Zoetis

Beesvirusdiarree (BVD) is ‘n siekte wat die beesbedryf baie geld kos. Die BVD-virus is hoogs aansteeklik, alomteenwoordig en word oorgedra en versprei deur besmette diere wat die virus in hul liggaamsvloeistowwe, veral speeksel en neusuitloopsel, uitskei. ‘n Bees wat besmet word met die virus, kan verskeie simptome hê, waaronder diarree en respiratoriese siekte, wat die mees algemene is. 

‘n Kenmerkende eienskap van BVD is dat dit lei tot geweldige immuunonderdrukking. Dit beteken dat ‘n bees wat aan BVD ly, baie meer vatbaar is vir verskeie ander siektes. Sodoende word BVD gereken as een van die belangrikste virusse wat deel uitmaak van multifaktoriale beesrespiratoriese siekte. Indien ‘n bees egter herstel na ‘n BVD-infeksie, ontwikkel daardie bees immuniteit teen die siekte en raak ontslae van die besmetting. 

Daar is egter beeste wat “permanent besmet” is en die BVD-virus deur die loop van hulle hele lewe afskei. ‘n Kalf word as ‘n permanent besmette kalf gebore wanneer sy ma tydelik besmet was in die periode waarin sy ongeveer 40–120 dae dragtig was. In hierdie tydperk van dragtigheid is die fetus se immuunsisteem nog nie volledig ontwikkel nie, en wanneer die fetus dan blootgestel word aan die BVD-virus, ontwikkel hy ‘n toleransie teen die virus. Wanneer hierdie kalf dan gebore word, is hy permanent besmet met die BVD-virus en skei hy lewenslank groot hoeveelhede van die virus af. Permanent besmette beeste dien as die hoofbron van besmetting vir ‘n kudde.

Die virus lei ook tot aborsies, misvormde kalwers en/of doodgebore kalwers, afhangend van watter stadium van dragtigheid ‘n vatbare koei met die virus besmet word. In ag genome al hierdie moontlike negatiewe uitkomste, kan BVD werklik tot groot ekonomiese verliese lei. In 2003 het Hans Houe [1] ‘n artikel in die joernaal Biologicals gepubliseer oor die ekonomiese impak van BVD in melkerye. Volgens die artikel is die skade wat deur die BVD-uitbraak veroorsaak is, beraam op ‘n verlies van tussen $40 en $95 per koei. Na inflasie en die wisselkoers se somme gemaak word, is dit ‘n paar duisend rand per koei in vandag se terme.

So, hoe nou gemaak? Soos met baie siektes, is die antwoord voorkoming in plaas van behandeling. Maak ‘n spreekwoordelike brandbaan deur te ent, in plaas van om ‘n veldbrand te probeer veg wanneer die virus in die kudde versprei. Een van die mees effektiewe maniere om ‘n kudde teen BVD-verliese te beskerm, is om te ent met ‘n entstof wat geregistreer is om fetale beskerming te bied. 

Zoetis se Bovi-Shield® Gold FP®5 is ‘n entstof wat onder andere geregistreer is om beskerming te bied teen fetale infeksie as gevolg van BVD en die geboorte van permanent besmette BVD-kalwers wanneer dit volgens etiketaanwysings toegedien word. Bovi-Shield® Gold FP®5 bied ook beskerming teen respiratoriese siekte as gevolg van BVD. Let op dat hierdie ‘n lewendige entstof is wat sorgvuldig volgens etiketaanwysings toegedien moet word om veilig te wees en optimale beskerming te bied. Vra gerus jou Zoetis-verkoopsverteenwoordiger of jou kuddeveearts vir meer inligting oor Bovi-Shield® Gold FP®5.

Tesame met enting moet ‘n goeie kuddebestuursprogram ook faktore soos biosekuriteit in ag neem om BVD optimaal te bekamp. Bestuursbesluite moet gemaak word om blootstelling aan die virus en aan permanent besmette diere sover moontlik te vermy. In kuddes waar BVD gediagnoseer is, word ‘n “Toets en slag” benadering dikwels gevolg om permanent besmette diere te identifiseer en te elimineer, waarna ‘n entingsprogram ingestel word om die risiko vir toekomstige uitbrake te beperk.

1. Houe H. Economic impact of BVDV infection in dairies. Biologicals. 2003 Jun 1;31(2):137-43.

SLEGS VIR GEBRUIK IN DIERE

Bovi-Shield® Gold FP®5 Reg. Nr.: G3837 (Act 36/1947). BVD Tipe 1 & 2, IBR, BRSV en PI₃.

Vir volledige voorskrifinligting, verwys na die voubiljet goedgekeur deur die medisynebeheerraad. Volle produkinligting is beskikbaar vanaf Zoetis South Africa (Edms) Bpk, Mpy. Reg. Nr: 2012/001825/07, 6de Vloer, Noordvleuel, Rivoniaweg 90, Sandton, 2196. PostNet Suite 53, Privaatsak 9976, Sandton, 2146, Suid Africa. Tel: +27 (0)80 099 8969. www.zoetis.co.za.